Toe alles op die wêreld nog klein was—so klein soos die borsveertjies van ’n tingtinkie—toe was daar twee wat rondgeloop het. Die een het altyd vir hom kos gesoek en die ander was blind.
Die Een Wat Kos Gesoek het, was ’n jagter. Hy het gate gemaak om die wild te vang, en hy het baie hard gewerk om nou en dan ’n stukkie kos in die hande te kry. Want in dié tyd, my Kleinbasie, was kos baie skaars. Nie soos vandag nie! Nou kry jy brood en blikkieskos en wat jy wil hê, as jy net vra, want die oubaas is mos ryk, en kan op die boekie koop in die winkel.
Maar in dié dae was daar nie boekies nie en nie eers winkels nie, en dit was baie swaar om jou kos te kry. Dit het sweet-sweet gegaan, Kleinbasie. ’n Mens moes jag en rondspring en selfs dan het jy maar min beetgekry.
Die jagter het eindelik ’n spelonk gevind. Die spelonk was vol met wild, amper net soos ’n byenes vol met heuning is.
Hy het gewag totdat die oues uitgekruip het, en toe het hy ingekruip en die kleintjies doodgemaak.
„Vanaand eet ek lekker … tjiep, tjiep, tjiep,” het hy gesê, en hy het sy lippe nat gemaak met sy tong, want hy het hom verbeel dat hy al die sous van die braaivleis kon proe.
Toe het hy die klein lykies van die kleintjies wat hy doodgemaak het, uitgedra en ’n groot gat in die grond gemaak, waarin hy hulle wou begrawe. [ 2 ]
