# Op my ou ramkietjie C. LOUIS LEIPOLDT · Afrikaans · Poem Rights: Public-domain text Op my ou ramkietjie, Met nog net een snaar, Speel ek in die maanskyn, Deurmekaar. Ek sing van Adam En Eva se val, Van die ou Paradys— „Halfpad mal!” So sê die mense Wat my hoor speel. As die skemer my wang soen Soos ferweel; As die maan my aanhoor, En die sterre knik, Dan speel ek kordaat voort, In my skik. Wat gee ek om mense Wat sê ek ’s mal, As die varings my aanhoor By die wal? Wat om my vriende— Wat nooit nie verstaan— As die sterre my toeknik En die maan? Op my ou ramkietjie, Met nog net een snaar, Speel ek in die maanskyn, Deurmekaar. Source: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302 Text edition: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302