# Die vlakte C. LOUIS LEIPOLDT · Afrikaans · Poem Rights: Public-domain text ## Slim opsomming — Hierdie teks Hier op my ou vlakte, die vlakte! ### Hoofgesprekspunte - Wat groei op die vlakte, die vlakte. - Wat waak oor die vlakte, die vlakte! - Hier neer op die vlakte, die vlakte! - En geel op die vlakte, die vlakte. Kernsinne uit hierdie teks gekies · vanlyn beskikbaar ## Leesteks Waar die koorsboom sy geel aan die wêreld vertoon, O wyd is die vlakte, die vlakte! En geil is die groei van sy katdoring-kroon, Wat groei op die vlakte, die vlakte. Dis wilde boslommer, berank en beboei, Met geilste klimop in geen jare gesnoei, Waaronder die blou apies klouter en knoei, Die volk van die vlakte, die vlakte! Die rooi-geel suurknolle pryk somermaand daar, O mooi is die vlakte, die vlakte! Die trotsige alwyne, deftig geblaar, Wat waak oor die vlakte, die vlakte! Die heuningsoet peuldoring, die varings so slank, Die bontblom wat orals die bosse oorrank, Die moepel waarin die boomsingertjies tjank, Hul waak oor die vlakte, die vlakte! O plat is die pad wat hier slinger en sluip, Dwars deur hierdie vlakte, die vlakte; En sag is die mos wat met reënwater druip Hier neer op die vlakte, die vlakte! O pragtig die kleur wat die skemeraand sprei Oor bosveld en grasveld, oor bulte en vlei, En pragtig die groen wat die wêreld hier kry By nag op die vlakte, die vlakte! Die klowe is steil en die berge is hoog, O gee my die vlakte, die vlakte! Al is dit ook winter en alles is droog, En geel op die vlakte, die vlakte. O hier is dit vry en die wêreld is stil, Met nêrens ’n weerklank, met nêrens ’n gril; En weelde van kleure so veel as jy wil, Hier op my ou vlakte, die vlakte! Source: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302 Text edition: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302