# Dis al JAN F. E. CELLIERS · Afrikaans · Poem Rights: Public-domain text Dis die blond, dis die blou: dis die veld, dis die lug; en ’n voël draai bowe in éensame vlug— dis al. Dis ’n balling, gekom oor die oseaan, dis ’n graf in die gras, dis ’n vallende traan— dis al. Source: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302 Text edition: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302